Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Van Bo

Lees Jakobus 3:13-18.

Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings (v 17).

Wat ’n mond vol! Jakobus sê reguit: As jy wys en verstandig is, sal jy daardie gawe gebruik om vrede te maak. Én om die selfsug en naywer in jou hart te beveg.

Indien dit nie gebeur nie, moet jy weet, kom jou soort wysheid nie van God af nie. Dan is dit boos. Vol bybedoelings.

Bybedoelings het altyd met die ego te make. En egostreling stel altyd sy eie agenda op. En ’n eie agenda het noodwendig selfsug as fondament. En selfsug se tweelingboetie is naywer. Hierop sê Jakobus: Dán volg “wanorde en allerhande gemene dade” (v 16).

Dít is nie nuus nie. Dit is eerder ’n pynlike herinnering aan wie ons is en wat ons aan mekaar doen. Ons wat ons op wysheid roem, op ’n goeie opvoeding. Op Christelike waardes.

Met die hand in eie boesem is dit die geskikte tyd om die soge­naamde goedheid en Christelikheid van ons gewaande wysheid te ondersoek. Om ons motiewe eerlik te probeer beoordeel.

Terselfdertyd behoort ons ons af te vra: Wat sal buitestanders sê as hulle ons in aksie sien wanneer ons onder druk kom? Wanneer daar dringend aanspraak gemaak word op ons vredeliewendheid, inskiklikheid, bedagsaamheid, medelye, opregtheid, onpartydig­heid? – om uit Jakobus se lysie aan te haal. Sal hulle iets van God se wysheid in my sien, of te veel van my eie boosheid? En hoe sal dan oor my verhouding met God geoordeel word?

Sien, Christelike waardes se belangrikste toonvenster is Chris­telike gedrag. En ’n goeie opvoeding se toetssteen is die vrede wat jy maak waar jy ook al gaan. Só lyk die wysheid wat van Bo kom.

Leer my, Here, om gereeld op te kyk na Bo, waar wysheid vandaan kom.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.