Lees Jakobus 4:1-3, 7-8a.
Onderwerp julle dan aan God … Nader tot God (v 7-8).
Met bak hande. Dit is ons posisie voor God. Altyd. Die tipiese bedelaarhouding, selfs met oë afgewend omdat daardie hande so vuil is.
Dit is geen vertoning van valse vroomheid nie, dit is soos dit hoort by skepsels wat kolossaal drooggemaak het. Wat tot die dood toe verleë is, skaam. Wat desperaat soebat om vergifnis.
Hoe ironies dat wangedrag by gelowiges dikwels die gevolg van hul godsdienstige handelinge is. Boonop gebede, sê Jakobus. Sy reguit, sonder-doekies-omdraai-woorde steek soos ’n skerp swaard met twee snykante: “As julle bid … wil (julle) net julle selfsugtige begeertes bevredig” (v 3).
Julle bid bloot ter wille van eiebelang, en boonop vir die ondermyning van ander. Julle sal niks van God kry nie. Dít belowe Jakobus hierdie bidders. Daarom, gaan hy sug-sug voort, is daar soveel rusies. Daarom baklei julle onder mekaar. Jaloesie is ’n vieslike woord, en nêrens meer onvanpas as by gelowiges nie.
Jakobus weet hoe vroomgevoude hande van mekaar losgemaak word en hoe die vingers dan na alle kante toe wys – na júlle, na húlle. Hoe vingers na binne vou en in vuiste gebal word, gereed om die duiwelswerk te doen wat sulke vuiste maar doen.
Maar nou moet die bidhandjies bedelhandjies word, sê hy. Asseblief, Here! sê daardie hande dan, skenk my ’n bietjie vergifnis, ek is só honger daarvoor. My selfsug het alles opgevreet wat ek het.
Liewe Here, moet tog nie wegkyk nie! Moenie die ruit toedraai nie. Moenie sommer die deur toemaak waaraan ek so desperaat klop nie. Ek vra net ’n brokkie genadebrood, asseblief, Here …
Barend Vos