Lees Markus 9:33-37.
“Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?” (v 33).
Hulle was toe nie só bang dat dit hulle daarvan weerhou het om met mekaar te loop en stry nie. En nie oor wát nie – oor wie van hulle die belangrikste is. Goeie genade!
Dit was seker onvermydelik. Dit was tog nog altyd só: Waar daar twee of drie in sy Naam bymekaar is, daar … sal een wil baasspeel.
Die Here weet dit. Hy het dit nog altyd geweet. ’n Mens kan selfs wonder hoeveel van Jesus se lyding nie veroorsaak is deur sy volgelinge se onderlinge geredekawel oor wie van hulle sy voorkeurkandidaat is nie.
Jesus se reaksie hierop is nie meer vir ons, die latere lesers van die verhale oor Hom, ’n verrassing nie. Maar destyds was dit sekerlik niks minder nie as ’n reuseskok. ’n Groot ontnugtering vir die strydendes, die mededingers. Hulle moes verneem dat hulle by voorbaat verloor het … teen ’n kind. En dat “almal se dienaar” (v 35) heel voor in die ry na die koninkryk staan.
Wat sou hulle hiervan gedink het? En, belangriker, hoe sou hulle hierop gereageer het? Die getuienis tot ons beskikking maak ons nie hieroor optimisties nie. Nie veel later nie sou hulle die kindertjies verjaag wie se mammas hulle na Jesus toe gebring het (Mark 10:13-16). Boonop wou die seuns van Sebedeus kort daarna die ereposisies vir hulle toe-eien, tot ontsteltenis van die ander mededingers (10:35-45).
Niks hiervan is vir ons vreemd nie, want dit het nog nooit uit Christus se kerk verdwyn nie. Steeds baklei sy volgelinge oor “posisies”. Steeds word mededingers verdag gemaak en uitgeskakel – alles ter wille van die begeerde goue medalje. Hoe tragies tog.
Here, bring my, dwing my, tot op die regte plek voor u aangesig.
Barend Vos