Lees Jeremia 11:18-20.
Ek het nie besef dat hulle teen my saamsweer nie … ek het my saak aan U toevertrou (v 19-20).
Dit is die ding met teenstand: Jy weet nie altyd daarvan nie. Teen die tyd dat jy uitvind dat almal nie gek na jou en jou optrede is nie, is dit dikwels te laat. Daarby is ’n sameswering uiteraard slinks, die gekonkel gebeur agter jou rug. En kort voor lank voel jy net die skerp messe. Te laat.
Jeremia se groot verligting hier is opvallend. Die Here het hom betyds teen die slegte optrede gewaarsku. Jeremia sê: Ek het niks vermoed nie, Here, en U het my uit hul bose hande geruk.
Is dit nie maar ons almal se wens nie dat die Here, wat alles raaksien, ook ons rug sal dek? Dat Hy betyds sal ingryp en ons teen slegte mense, konkelaars, beskerm?
Selfs meer as dit? Jesus het immers sy volgelinge geleer om te bid dat die Vader hulle van die Bose sal verlos.
Maar dit is dalk juis hier, by dié bede, waar ons huiwer. Want ons word maklik deur die Bose se komplimente gevlei en ons swig gereeld vir wat op ’n silwerskinkbord vir ons aangebied word. Wanneer die onvermydelike dan gebeur en die bloed uiteindelik vloei, is dit te laat vir trane.
Gelukkig is dit nooit te laat vir God nie. Hy sal maar weer agter my kom opruim, die gemors van die vloer opvee, my wonde verbind, my verflenterde ego herstel. En weer begin om my heel te maak.
Daarom is Jeremia so gelukkig: Hy het die Here se waarskuwende hand betyds gesien en dit dadelik vasgegryp. Hy het rede om eindeloos verlig te voel: Hy is báie ellende gespaar.
Ek ken u ingrypende hand in my lewe, Here. Moet dit asseblief nooit terugtrek nie.
Barend Vos