Lees Markus 9:38-41.
“Wie nie téén ons is nie, is vir ons” (v 40).
Gelowiges is berug daarvoor dat hulle onderling skerp van mekaar kan verskil. En, nee, dit gaan nie noodwendig oor ’n dispuut rakende kleredrag of kerkmusiek of die prys van pannekoek op die kerkbasaar nie, maar veral oor sake wat die evangelie raak. Of dan, die evangelie soos óns dit verstaan, in teenstelling met hoe húlle dit verstaan.
Gelowiges het deur die eeue dan ook die gebruik gevestig dat as dinge verskillend vertolk word, die weë sal skei: Óf ék gaan stig ’n nuwe kerk óf jý doen dit. Maar vir ons met ons uiteenlopende sienings is daar nie plek in dieselfde kerk nie.
Soms het sulke skeurings minder dramatiese gevolge: Daar word voortaan by ’n buurgemeente aanbid, of daar word doodgewoon nie meer aanbid nie, in elk geval nie saam met húlle nie …
Jesus se dissipels het hierdie ongemaklikheid op hul eie manier probeer hanteer. Hul redenasie is nie vir ons vreemd nie: Dáárdie mense is nie deel van óns groepie nie, en daarom het ons hulle probeer keer om te doen wat hulle doen. Of bekeer om te doen soos ons dit doen.
Jesus se reaksie kom vir sommige as ’n ontnugtering. Ons is aan dieselfde kant, sê Hy. Hulle doen die goeie dinge wat ons ook doen, al is dit dalk nie op dieselfde manier as ons nie. Ons hoef nie beheer oor hulle te hê of bevel oor hulle te voer nie. Hulle doen God se werk, en Hy is in beheer. Soos ons, gehoorsaam hulle God se bevel. Hy sal oor hulle oordeel, soos Hy oor ons sal oordeel.
Here, neem weg ons begeerte om ander mense se godsdiensbeoefening te beoordeel. Leer ons weer en weer hoe om lief te hê, bo alles.
Barend Vos