Lees Markus 9:42-50.
“Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe” (v 50).
Markus gee hier ’n kort opsomming van ’n klompie van Jesus se uitsprake waaroor ons elders breedvoeriger lees. Maar juis omdat dit so kripties is, steek dit soos skerp penne in jou lyf.
Die groot woord hier, die vloekwoord, is “afvallig”. Meer spesifiek: iets of iemand wat jou afvallig maak. Of jy wat iemand afvallig maak.
Afvalligheid vloek teen die wese van Christenskap. Het Jesus dan nie ’n lang verduideliking gegee oor hoe stewig die lote aan die wingerdstok verbind is nie? (Joh 15:4-7). En skryf Paulus nie herhaaldelik hoe logies dit vir gelowiges is om in Christus te wees nie? (Rom 8:1; 11:17). Die verbintenis tussen Christus en sy volgelinge is iets heiligs. In beginsel onaantasbaar, kan jy maar sê.
Daar is mense wat om ’n verskeidenheid redes hierdie verbintenis verbreek. Willens en wetens, sê Jesus. Want hoe anders maak jy ander gelowiges, boonop “kleintjies” (v 42), afvallig as jy dit nie doelbewus doen nie? En wie kan eerlikwaar sê hul hand of voet is onbeheerbaar?
Nee, afvalligheid is ’n keuse, ’n ellendige een. En afvallig máák boonop ’n godskreiende sonde. Jesus oordeel nie ligtelik hieroor nie. Hy praat van ’n meulsteen om die nek en ’n onblusbare vuur. Hy sê om kreupel in die hemelse koninkryk te wees is beter as om met al twee voete in die hel te wees. Hy sê verslaande sout is ’n hopelose besigheid.
Hoe gebeur dit dat mense wat van beter weet, afvallig raak of afvallig maak? Nog ernstiger: Kan dit alles weer omgekeer word? Is omdraai moontlik op die pad na die verdoemenis?
U vra gehoorsaamheid, Here. U is ons enigste hoop, U wat ons aan U vasgemaak het.
Barend Vos