Lees Numeri 11:4-6, 10-16, 24-29.
Toe het die Israeliete self ook begin kla en sê: “As ons tog net … Ons onthou nog …” (v 4-5).
Hierdie veelseggende verhaal uit die ou trekvolk se woestyngeskiedenis vertel ons heelwat van hulle, daardie dikwels ontevredenes.
Ons leer onder meer by hulle hoe om met die witbrood onder die arm te kla. En hoe aansteeklik so ’n geklaery is. Ons leer ook hoe om, terwyl ons nou aan ’t murmureer is, bloot te onthou wat ons wil onthou. Hoe om dan sugtend te sê: Ag, die goeie ou dae!
Ons leer dat onvergenoegdheid een van die oudste emosies is. En hoe luidrugtiger, hoe doeltreffender. Want hulle slaag in hul doel – hulle trek Moses se aandag.
En só hoor ons hoe Moses hierop reageer. Met absolute moedeloosheid oor sy mense se onafgebroke gekla, en selfs met bitterheid teenoor die Here. Hy gaan kla op sy beurt by die Here omdat hy alles moet aanhoor, omdat die mense van hóm rekenskap eis.
Leiers, voorlopers, het dit nie maklik nie. Hulle verstaan ook nie altyd waarheen húl Leier met hulle op pad is nie. Hulle voel hulle dra hulle dood aan hierdie dubbele verantwoordelikheid: om voor mense uit te loop, en om agter ’n Ander Een aan te gaan. Hulle, van almal, voel dikwels om tou op te gooi, om Gods water maar oor Gods akker te laat loop.
Hulle soek dikwels tevergeefs na die geringste begrip by hul volgelinge. Daarom is hulle volledig afhanklik van hul Leier. Dat Hy asseblief tog soms sal stilstaan, desnoods omdraai. Dat Hy hulle wéér aan die hand sal kom vat, sal sê: Kom, my kind!
Ons leer veral dat U alle lewenspaaie ken, al die hoogtes, dieptes, draaie. Dit is ’n eindelose troos.
Barend Vos