Lees Numeri 11:4-6, 10-16, 24-29.
“Bekommer jy jou oor my posisie? Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was” (v 29).
Die Here het sy eie manier om te voorsien. Altyd. Wanneer ons hierdie verhaal ’n tweede keer lees en reeds geleer het hoe mense se kop werk, leer ons hier hoe die Here dink. Hoe Hy Moses se moedelose smekinge hoor en ’n plan maak. Soos so dikwels die geval is, gaan hierdie plan ook veel verder as wat sy radelose kinders ooit kon vermoed.
Hulle sou dalk reken dat Hy net ’n bietjie stadiger moet loop, sodat hulle kan bykom en asem skep. Gewoonlik is dit voldoende. Maar hierdie keer roep Hy versterkings in om Moses by te staan. Sewentig man, om die waarheid te sê. Volksleiers, wat die Here nou in die openbaar in diens neem en met sy Gees toerus. Hulle sal Moses help, die drag op sy skouers ligter maak.
Daar was wel twee wat nie eens na die openbare salwing gegaan het nie, wat in die kamp agtergebly en onverpoos voortgegaan het om die Here se werk te doen. Dit het nogal ontsteltenis veroorsaak, maar Moses het gesê: Los hulle uit! Laat hulle voortgaan om die goeie werk te doen. Ek sou wens dat álmal saam met hulle inspring en die werk doen!
Só lyk ware leierskap: inklusief, onbedreig. Moses is maar te bly om die verantwoordelikheid te deel. Hy is baie dankbaar oor die hulp. Hy begeer om die net selfs wyer te span.
Hoe anders is Moses as die leiers waaraan ons gewoond geraak het! Hoe totaal anders as die leiers waarmee óns volgelinge opgeskeep moet sit …
Here, help ons om u planne dankbaar aan te gryp. Ons is so afhanklik van U.
Barend Vos