Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die goeie mense

Lees Psalm 26.

Ek laat my deur u liefde lei en ek lewe deur u trou (v 3).

Die psalmdigter sê hy is ’n onskuldige mens, en daar is uitvoerige redes om dit te staaf. Daarby vra hy mooi dat die Here hom tog nie by die sondaars, die bedrieërs en die moordenaars moet reken nie. Ten slotte beroep hy hom op die Here se guns vir die pad vorentoe en onderneem om Hom te loof en van sy wonderwerke te vertel.

Dit is ’n mooi psalm dié. Vol liefde en genade. Vol sagtheid. Die belydenis van ’n goeie mens. Ek wens ek kan só wees, ek wens ek kon dit alles gesê het.

Mý plek in hierdie psalm is helaas nie by hierdie goeie mens nie. Nie eens naby hom nie. As daar een karakter in sy mooi psalm is waar ek gevind kan word, is dit by die sondaar. Ja, by dié een met die besoedelde hande.

Want wanneer ek my hande probeer skoonkry – deur hulle in onskuld te probeer was, of deur die getuienis van my vergrype te probeer afskrop – stuit ek op die onmoontlikheid daarvan. Besef ek hoe onbegonne dit is.

Daarom het ek geen keuse nie: Ek moet óf boedel oorgee en my nuttelose lewe maar sy gang laat gaan, óf ek moet hulp inroep.

Kies ek die eerste moontlikheid, loop ek die risiko dat die lewe by my sal verbygaan. Dat ek al my dae in knoeiery en kansvattery deurbring, en nooit na myself in die spieël sal kan kyk sonder om te gril nie.

Daar is dus maar één moontlikheid: Om te roep, te skreeu, te soebat: Here, help!

Here, wees my genadig. Was Ú my hande, my hele lewe, asseblief.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.