Lees Hebreërs 2:5-12.
Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie (v 11).
Ons is die verhewe Een se broers. Ja, einste ons wat vir Hom wegkruip, vir wie Hy moet gaan soek. Vir wie Hy optel en dra omdat ons moeg en voetseer is van al die weghardloop. Ons, wat ons vir Hom skaam …
Gelukkig reken Hy ons as sy broers en susters, kinders van sy Vader. Gelukkig reken Hy ons nie ons stommiteite toe nie en verwyt Hy ons nie oor die skandes wat ons oor die familie bring nie. Ons hoor nooit by Hom dat ons die familie se swartskaap is nie. Nee, elke keer dat Hy ons uit ons wegkruipplek kom opdiep, dra Hy ons terug huis toe, Ouboet wat Hy is.
Hy tree vir ons in die bres, Hy veg ons gevegte vir ons. Hy keer gereeld die boelies van ons af weg. Ons kán daardie ellendelinge maar dreig en sê: Ek gaan my Broer vertel! Nie dat dit nodig is om Hom oor die onreg in te lig nie; Hy weet dit reeds; Hy het lankal reeds planne vir daardie spulletjie.
Seker die beste van alles is dat Hy ons Vader goed ken. Hy het ons geleer wat die regte manier is om met Hom te praat. Hy sê dikwels Hy en die Vader is één.
Dit is juis hierdie noue verhouding tussen Hom en ons Vader wat my grondig troos. Wat my, al is dit koponderstebo en skoorvoetend, my plek keer op keer aan die familietafel laat inneem sodat ek die genadebrood uit sy hand kan ontvang.
Genade, onbeskryflik groot, het U aan my bewys. ’n Wegloopkind, weer in die Vaderhuis!
Barend Vos