Lees Psalm 8.
U laat hom heers oor die werk van u hande (v 7).
Daar is mos die psalmdigter wat na die berge opkyk en wonder (en weet!) waar sy hulp vandaan kom (Ps 121), en die een wat op die bed gaan lê en kalm word omdat hy weet waar sy veiligheid vandaan kom (Ps 4). Hier hoor ons die verbaasde uitroep van een wat na die maan en die sterre kyk – en nie ’n idee het waar die Here aan hom en mense soos hy kom nie.
Kyk dan! sê hy verbysterd. Die Here het sy vertroue op ’n wonderbaarlike manier in die mens bevestig deur hom en haar “met aansien en eer” (v 6) te kroon, deur hulle heersers oor sy goddelike handewerk te maak. Wat ’n magtige mosie van vertroue in hierdie skepsels!
Helaas. As ons dit deesdae sou waag om rondom ons te kyk, moet ons bely dat God straks beter sou gevaar het as Hy sy aarde liefs aan sy engele toevertrou het. Want sy vertrouelinge het mos behoorlik begin baasspeel.
Hulle mors sonder ophou met die enigste Baas se skepping deur “die diere in die veld, die voëls in die lug en die visse in die see wat die oseane deurkruis” (v 8-9) se bestaan op alle moontlike maniere te bedreig. Hulle breek en brou oral waar hulle gaan. Hulle eis ál meer vir hulleself op en palm alles in wat hulle kan. Hulle lewe maar sewentig, tagtig jaar, en speel hovaardig god-god oor die ewige skepping.
Ja, as die digter van Psalm 8 vandag nog geleef het, sou hy sy skrefiesoë nie kon glo wanneer hy deur die besoedelde lug na die skaars sigbare hemel of die vernielde aarde probeer kyk het nie.
Here, ons Here, hoe min dink ons nie van u wonderbare Naam nie! Hoe lank gaan U dit met ons uithou?
Barend Vos