Lees Markus 10:17-31.
Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort” (v 21).
Hy was klaarblyklik ernstig met sy vraag, hierdie jong man wat vir Jesus kom vra het hoe hy die ewige lewe kan verkry. Markus vertel hoe hy aangehardloop gekom het, op sy knieë voor Jesus kom neerval het.
Vir hom was dit ’n dringende saak – so anders as hulle van wie ons dikwels sulke vrae hoor. Die moedswilliges, dié wat Hom probeer uitvang, hulle wat op die omstanders probeer indruk maak. Hierdie mens wil regtig weet: Wat moet ek doen?
Jesus begin: Kyk, daar is mos die gebooie … Maar dit is asof die jong man Hom halfpad in die rede val: Ek doen daardie dinge al sedert my kinderdae!
Toe sien Jesus hoe ernstig hy is, én, vertel Markus, Jesus het hom liefgekry. En hom genooi om een van sy dissipels te word. Sommer net so, ja. Daar is bloot die kwessie van sy besittings …
Die pad agter Jesus aan is swaar genoeg; jy kan dit nie bekostig om deur ’n swaar drag teruggehou, afgerem te word nie.
Hierop het die jong man omgedraai, erg bedruk, sê Markus, want hy het baie besittings gehad. Toe het hy … en ons weet nie verder nie.
Het hy alles gaan verkoop, soos Jesus hom aangesê het? Die geld toe vir die armes gegee? Ons weet nie.
Nee, ons weet niks verder van hom nie. Ons weet wel omtrent alles van onsself. Van ons erns om Jesus te volg, of nie. Van ons bereidheid om af te sien van ons bagasie sodat ons op sy spoor kan bly, of nie.
Here, my drag is loodswaar, maar ek is bitter lief daarvoor. Hoe wil U hê moet ek maak?
Barend Vos