Lees Amos 5:6-7.
Vra na die wil van die Here, dan sal julle lewe! (v 6).
Ons word geleer om ook so te bid, om ons Vader te vra om sy wil te laat geskied. Dit is moeilik om dit te bid. Boonop raak sake oneindig ingewikkeld wanneer ons gebed wel verhoor word.
Moenie ’n fout maak nie: Ons grootste wens, al steek ons dit hoe goed weg, is dat ons eie wil sal geskied. Dat ons óns sin sal kry. Ons werk hard daarvoor. Ons praat mense om. Ten slotte bid ons dit ook, al verbloem ons dit vroom: Laat mý wil geskied …
Daarom loop ons ’n groot risiko deur na die Here se wil te vra. Want sê nou net – en ons weet hoe groot die kans is! – sy wil is nie in ooreenstemming met ons s’n nie? Wat maak ons dan?
Amos sê: Julle het nie ’n alternatief nie. Dit is óf die Here se wil (wat julle sal laat lewe) óf jul eie wil (wat julle in jul selfsug sal laat verstik). Want wie na sy eie wil op soek gaan, trap uiteraard op ander.
Eiewilligheid en naasteliefde was nog nooit pasmaats nie. Inteendeel.
Moet ons dan nie maar waag en na die Here se wil vra nie? En terwyl ons op sy aanduiding wag, solank oefen om barmhartig te wees nie? Want so seker soos wat ons ’n antwoord op ons gebed sal kry, so seker kan ons wees dat die woord “lewe” in een van sy verbuigings daarin sal voorkom.
Dalk iets soos “leef en laat leef ”. Of: “Dit is my wil dat jy die lewe sal hê, en dit in oorvloed. Deel dus jou oorvloed met jou medemens.”
Ek vra maar, Here, want ek is u kind: Hoe wil U hê moet ek lewe?
Barend Vos