Lees Amos 5:10-15.
Julle moet haat wat verkeerd is, julle moet liefhê wat goed is, julle moet opkom vir die reg in die howe (v 15).
Amos beskryf in skerp taal die Here se ontsteltenis oor sy sogenaamde kinders se ongeërgde omgang met reg en geregtigheid. Hy weet goed dat dit hulle nie ’n duit kan skeel as arm, weerlose mense vertrap word nie, solank húlle net nie daaronder ly nie.
Hy weet ook dat wanneer hulle in alle tale oor onreg swyg, dit maklik is om die volgende treetjie te gee: om jou te laat omkoop om jou oë te sluit. Om jou gewete op uitverkoping te hê.
Die ironie is die selfbedrog wat hiermee gepaardgaan: Mense wat bely hulle is God se kinders en dit selfs met hul hele hart glo, maar wat op ’n medemens trap. Wat hul hande oor hul ore hou sodat hulle nie die hulpgeroep hoor nie. Wat hul oë sluit vir die onreg wat oop en bloot aan ander gedoen word.
Wat terselfdertyd roerende gebede en vrome offers aan die Here bring, omdat Hy, so verkondig hulle, “altyd by ons is”.
Hy is nie. Só sê Amos. Nee, Hy is juis by die verdruktes, die seergemaaktes, die verontregtes. Hy is daar waar die bloed van die vloere opgevee en die wonde verbind en die trane afgedroog word.
Hy sal eers weer sy gesig vir sy sogenaamde kinders wys wanneer hulle hul hart vir reg en geregtigheid oopmaak. Wanneer hulle Hom kom help met die versorging van die armes en sukkelaars. Wanneer hulle in die bres tree vir dié wat uitgebuit word.
Here, ek skaam my vir die gemaklike geloof dat U by my is, selfs wanneer ek onreg pleeg. Wanneer ek nie ’n vinger verroer om armoede en swaarkry te beveg nie. Maak my wakker!
Barend Vos