Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Neerbuig

Lees Job 38:1-7.

“Ek sal vra, antwoord jy My” (v 3).

So word die rolle omgekeer. Die bordjies verhang, kan jy maar sê: Jy het nou klaar jou vrae gevra, sê die Here vir Job, nou is dit mý beurt.

“Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het … daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het?” (v 4, 7). Só vra Hy.

Dit is waarskynlik ’n gelowige se groot vrees: Wanneer gaan die Here ophou om geduldig na my geteem te luister? Wanneer gaan Hý die karwats begin inlê? En wat maak ek wanneer dit gebeur?

Aanvanklik blyk dit dat Job in elk geval geen woord inkry nie. Die vrae reën immers uit ’n stormwind op hom neer. Skerp reto­riese vrae wat nie ’n antwoord vra nie, maar ’n teregwysing in­hou. Elkeen met dié onderliggende beskuldiging: Wat weet jy nou eintlik? Waar kry jy die reg – en die vrymoedigheid! – om al jou vrae op My af te vuur?

Dit sou maar die begin wees. Hierna sou daar nog ritse vrae kom. Arme Job. Eers sy slim vriende, nou sy verontwaardigde Here. Eersgenoemdes het genadiglik die aftog geblaas. Maar nou is niemand minder nie as die Here self op hom. Waarheen wend hy hom? Waar sal sy hulp vandaan kom?

Sy hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Die Here wat hom nou weer herinner aan die skeppingsmag van die God wat hy bevraagteken het.

Nee, daar sal niks meer uit die vriende kom nie. Hul slimmig­hede en gewaande belangrikheid het hulle lankal reeds ingesluk. Job se hulp en sy hoop is van die Here wat Hom verwerdig om vanuit sy verhewe posisie met hom, die ashoopman, te praat.

So buig U U neer, grote God, so neem U ons hand.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.