Lees Psalm 104:1-9.
U wat op die wolke ry, op die vleuels van die wind … (v 3).
Hier begin ’n loflied wat uiteindelik vyf en dertig verse sou beslaan. ’n Jubellied wat van begin tot einde sê: “Ek wil die Here loof!”
Dié lofuitings het nie brieke nie, en selfs gesoute Bybellesers sal ’n oomblik verbaas staan as hulle agterkom presies waar dié sanger gaan draai. Ja, tot by seemonsters … wat deur die Here geskep is om mee te speel!
Dit is ’n heerlike, onbevange lied wat in treffende poëtiese taal (selfs in die vertaling daarvan duidelik merkbaar) die Skepper se heerskappy besing. Die beeldspraak sorg vir verbluffende prentjies, en die positiwiteit wat hieruit straal, sal die mismoedigste siel opbeur en die suurste mond in ’n glimlag laat plooi.
Dit is nie ’n lied vir siniese mense nie. (Watter lied is?) Die wêreldbeeld wat hier verteenwoordig word, is erg primitief, sal hulle sê. Kyk dan die plat aarde, die ou driedeling van hemel-aarde-waters en, verbeel jou, die bevel aan die waters om hul plek te ken. Om nie van die monsters in die see te praat nie!
Berus die roemrykheid van jul God dan op voorwetenskaplike aannames? Is Hy nie ook maar ’n opgedroomde verskynsel in ’n fabelagtige bedinksel nie?
Só sal hulle sê, en die gelowige leser ’n oomblik stil maak. Maar net ’n oomblik, want gelowiges is nie naïef nie en hulle laat hul God nie deur ’n sinikus beoordeel nie. Hulle sal hom wel jammer kry, dié vreugdelose mens, en hulle kan hom dalk vra wanneer laas blydskap hom laat dans het.
Want om dié lied te verstaan, moet jy sy ritme kan hoor. En jy moet fyn kan luister hoe die wind sy vlerke klap.
Halleluja! Hoe hoog sweef u gedagtes, hoe stewig staan u planne vir ons!
Barend Vos