Boodskap vir Vandag

Search

Hoëpriesters

Lees Hebreërs 5:1-10.

Elke hoëpriester is ’n mens … Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes (v 1-2).

Ons weet uit die staanspoor waarop dié beredenering gaan uit­loop: Jesus is die groot Hoëpriester. Só verklap verskeie Bybelver­talings dit in die opskrif van hierdie hoofstuk.

Maar voorafkennis ofte nie, die troos is enorm. Die sagte waar­heid is dat Hy vir sy mense in die bres tree omdat Hy self ’n mens was, een wat trouens dikwels na Homself as “die Seun van die mens” verwys het. Hoe goed is dit dat Hy weet hoe dit met mense is.

Hoe wonderlik om dit weer te hoor. Uitgespel in die ou Israeliete se taal, maar duidelik verstaanbaar vir hedendaagse gelowiges.

So groot soos die troos is, so helder is die wekroep vir mense wat deur die eeue deur God geroep word om hoëpriesters vir hul mense te wees. ’n Mens uit die mense, om hulle op vele gebiede te versorg. Juis die kleintjies en die swakkes, dié wat minder ingelig is as die res, hulle wat maklik ’n prooi vir jakkalse en wolwe word.

’n Hoëpriester is ’n beskermer. Hy word geroep om vir ander in te staan. Om hulle in God se Naam te verdedig. Die hoëpriester weet by voorbaat dat hy nie ’n gewildheidskompetisie gaan wen nie. Dat sy openlike keuse vir die swakkes hom baie kritiek, selfs minagting, op die hals gaan haal.

Dat die einste mense vir wie hy geroep is om te help, nie nood­wendig waardering vir sy beste pogings gaan hê nie.

Só was dit met Jesus, die groot Hoëpriester. Daar is geen rede om te vermoed dat dit anders met sy hedendaagse navolgers sal wees nie.

Dit is my troos dat ek deur U geroep en gestuur is. Dat my krag van U af kom.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.