Lees Markus 10:35-45.
“Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees” (v 43).
“Hubris” word in woordeboeke as “aanmatiging” omskryf, “onbeskaamdheid” – en daar is geen beter tipering vir hierdie twee dissipels se optrede nie. Boonop tree hul tien maters ook tot die “kompetisie” toe, en dit kos Jesus hard praat.
Sou hulle Hom hiérdie keer hoor? Want dit het toe reeds ’n groot verwagting onder die dissipels geword dat Jesus vir hulle moet sê hoe belangrik hulle is. As dit kan, wie die heel belangrikste is. Wie sal byvoorbeeld die ereposisies in sy koninkryk inneem?
Hier sê Jesus: “Julle weet nie wat julle vra nie” (v 38).
O, nee, antwoord die twee, ons weet goed. Ons sal U op u lydenspad volg, ons sal die lydensbeker tot op die droesem saam met U ledig!
Hubris … Toe is die ander dissipels hoogs verontwaardig: Hoe durf julle! Vir die latere leser is die subteks hier baie duidelik. Hulle wou eintlik sê: Wie het gesê júlle kan dit vra? Óns het ook ’n reg op daardie ereplekke!
Jesus se teregwysing dawer tot vandag toe oor die kerk: By julle moet dit nie so wees nie. In die kerk is daar nie plek vir baasspeel en egostreling en posisies nie. Die belangrikste mense in die kerk is dié wat die laagste kan buk sodat hulle die kleinstes en geringstes se vuil voete kan bykom. Die belangrikste mense in die kerk is hulle wat met ’n warm glimlag kan opskuif om ook vir die nuweling en vreemdeling en ellendeling plek te maak.
Die kerk se Koning het dit alles immers vir julle kom wys. Sien julle dit dan nie raak nie?
Here, wys my opnuut my plek in u koninkryk, dit wat U van my verwag.
Barend Vos