Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die Here se wil

Lees Jesaja 53:4-12.

Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee … sal die wil van die Here sy doel bereik (v 10).

Dit is ’n lied dié. ’n Treurlied oor die Here se dienaar wat onnoem­bare smarte ly. Wat ander se siektes dra, wat ander se straf ontvang. Wat weerloos en sonder om te kla, soos ’n lam wat na die slagplek gelei word, op die onafwendbare wag.

En die onafwendbare? Die Here se wil wat geskied. Dit wat van hom, hierdie lydende dienaar, ’n slagoffer maak. Die sondebok wat vir ander se oortredings geoffer word.

Ons ken dit nie. Dit is in enige taal besonder vreemd. Daarom bestaan dit beswaarlik in ons woordeskat, hierdie verskynsel dat iemand om ander se ontwil gestraf word en dit boonop stilswyend aanvaar. Dat dit alles in die uitvoering van God se wil gebeur, laat die raaisel verder verdiep.

Behalwe, natuurlik, wanneer dit ons aan Jesus van Nasaret laat dink. Dán het hierdie vreemde lied sin. Daarom word dit dikwels gebruik om sonder meer na Jesus se lyding te verwys. Dit word immers ook in nie minder nie as sewe Nuwe-Testamentiese boeke so gedoen. Só maklik, só vanselfsprekend.

Dit sal jammer wees as ons toelaat dat dié dienaar se ellende by ons verbygaan, die opperste onreg. Want dit maak nie saak of jy “dienaar” met ’n klein- of ’n hoofletter wil spel nie; die waarheid is: Dit was die Here se wil om hom te verbrysel, sodat al sy ander dienaars dié verbryseling kan vryspring.

Hoe bitter vreemd dat die Here se wil só lyk. Hoe skokkend dat dit soveel kos. En dit ter wille van onwillige, protesterende ou dienaartjies soos ek.

Ja, ek kos Hom die slae, die smarte …

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.