Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Beskermer

Lees Psalm 91:9-16.

Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm … Op hulle hande sal hulle jou dra (v 11-12).

Dit is weer een van die psalms waaroor gewone gelowiges jubel, sukkelende gelowiges wonder, en waaroor ongelowiges kraai soos hulle lag.

Want dit is nou eenmaal ’n feit dat Psalm 91 se beloftes nie deur almal ewe ernstig bejeën word nie. Die jubelendes sal dit wel vol oortuiging op hul motorbuffer plak, maar die sukkelaars sal ver­leë wonder oor diegene wat toe inderdaad die prooi van boosheid geword het. Die ongelowiges lag almal uit.

Voeg nou boonop engele by hierdie prentjie en eersgenoemde groep tik “amen!” onderaan, die tweede groep blaai vinnig verby óf soek betroubare leesstof oor dié vreemde verskynsel. Die ongelo­wiges sê hulle kan nie glo dat grootmense by hul volle verstand sulke dinge vir soetkoek opeet nie.

Só word hierdie psalm tot sterwens toe ondersoek en ontleed, verdedig en verduidelik, uitgepluis, uitgelag – en, dalk die ergste van alles, bepréék.

Want dit is ’n lied hierdie. En ’n lied word gesing. As dit boonop ’n juiglied is, word dit juigend gesing, onbevange.

Nee, ongelowiges sal nie sommer saamsing nie. Hierdie lied is waarskynlik ook nie die mees geskikte een om hulle iets van die Here se musiek te leer nie. Maar die gelowiges, alle gelowiges, die goedgelowiges én die twyfelaars, kan maar inval. Want hulle almal weet hoe dit is om die Here te vra om jou te beskerm.

As hierdie psalm deel van hul antwoord is, beeldspraak en al, dan kan hulle dit maar in ontvangs neem. Dit kom met liefde van ’n medegelowige wat weet hoe dit is om by die Allerhoogste te skuil.

Ek weet verseker dat my Beskermer leef. Halleluja, Halleluja, Here!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.