Lees Job 42:10-17.
Job het toe gesterf. Hy was oud en het ’n vol lewe gehad (v 17).
’n Vol lewe, inderdaad. Twee en veertig Bybelhoofstukke vol. Vol ellende, vol seer en swaar. Vol vriende wat vol slimmighede was. Vol allerlei verduidelikings. En uiteindelik oorlopens toe vol begenadiging.
Die latere lesers is propvol stories en verklarings, en, soos Job se vriende, “volledig ingelig” oor alles wat Job en sy wedervarings betref. Hulle trap oor en oor in dieselfde slaggat as hulle sê: Só en só is God. Sonder twyfel.
Uiteindelik is almal so aan die filosofeer en met hul gewaande kennis voor mekaar aan ’t paradeer dat Job en sy ellende totaal vergete raak. Op die agtergrond geskuif ter wille van die vlieë wat hulle mekaar probeer afvang. Niemand onthou meer sy swaarkry nie; hulle probeer te hard om met allerlei teologiese truuks punte aan te teken.
Gelukkig, tog, vir die laaste vyf hoofstukke. Die Goddelike korreksie op hierdie akademiese armdrukkery. Hier wend die Here, die Een wat onder heftige bespreking was, Hom self tot Job. Tree Hy met Job in gesprek. Weg is die vriende, weg die goedkoop geleerdheid.
Nou, hier, sorg die Here vir Job. En nié by wyse van spreke nie; daar is geen groot gesprekke wat gerapporteer hoef te word nie. Vraetyd is verby, daar is geen nuwe antwoorde nie.
Die ou-ou waarheid word bevestig: Die Here se kinders is nie aan ’n knorrige ou man uitgelewer nie; hulle leef uit hul Here se hande. Daardie hande wat hulle styf toevou, wat groot oopgaan wanneer Hy hulle wys presies hoe liefde lyk.
Here, ek dank U dat ook ek aan die ontvangkant van u ruim genade is. Dat U daardie hande wat vuis maak vir my teenstanders, gebruik om my te koester en te voed.
Barend Vos