Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Rondom

Lees Psalm 34:1-8.

Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien (v 8).

Van watter kant kom bedreigings? Ons staan gereed vir die tromp­op aanvalle, ons loer na links en na regs. Ons wens ons het oë agter ons kop, want die messe wat die seerste steek, word juis na ons rug gemik.

Dit is seker dié dat hierdie psalmdigter dankbaar is oor die Engel se omvattende beskerming. Want die nood is hoog en die gevaar kom van alle kante na hom toe aan. Hoe goed vir hom om te weet sy voorkant, sykante én sy rug is gedek! Hoe geseënd is ons as ons weet dat ons beskerming uiteindelik van Bo kom. En dan van Heel Bo.

Die aanslae op gelowiges kan nie met minderwaardige skanse afgeslaan word nie; die Bose is nie ’n amateur nie. Hy/sy/hulle is meedoënloos, slinks, voorbedag. Slaan meestal sonder vooraf waarskuwing toe. As meesters van misleiding kruip die bose magte ook ongemerk in waar hulle die minste verwag word: tussen kerk­mense, en selfs tot diep binne-in ’n gelowige se hart.

Daarom is die omvattende beskerming so allernoodsaaklik. As die Engel van die Here en die laer wat hy opslaan ’n troostende metafoor is, oftewel beeldspraak oor die Here se beskerming na alle kante toe, is die bedreigings ’n nare werklikheid.

En ons moet weet: Met watter prentjie die Here se bewaring van sy kinders ook al beskrywe word, ons is volledig daarvan afhanklik.

O, en veral ook vir die bedreiging van binne – in ons eie kring én in ons eie hart. Daarom moet die Engel maar sy kamp tot teen­aan ons uitbrei.

Hoe goed om te weet dat niks en niemand U kan verras nie. Dat ons Beskermer nooit sluimer of slaap nie.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.