Lees Hebreërs 7:23-28.
Vir ons was so ’n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is (v 26).
Gelowiges kan om vele redes dankbaar wees dat God se horlosie nie soos hulle s’n werk nie en sy kalender anders as hulle s’n lyk.
Kyk, tydsbestuur is nie ons beste eienskap nie; ons is wel kampioene in tydsverkwisting. Toe die gawe van tydsberekening uitgedeel is, het baie van ons nie eens opgedaag nie. Bowendien begin ons skaars met ’n ding … en dan verloor ons weer belangstelling.
Dit is dalk ook daarom dat ons Skepper, Hy wat ons so goed ken, nie kanse waag met ons en ons tydbegrip nie. Dat Hy ons en ons aandagspan, ons en ons toewyding, maar deur die vingers sien. Hy weet goed dat ons uitstel omtrent altyd tot afstel lei. Dat as ons vir Hom sou sê: “Wag eers …” ons Hom lank sal laat wag, báie lank.
Of as ons, soos kinders maar is, onderneem: “Ek sal dit later doen,” ons eintlik bedoel: “Doen dit eerder self, Here …”
Toe doen Hy dit. Hy weet Hy kan nie op ons wag nie, en toe het Hy op die regte tyd en om ons ontwil Jesus se hoëpriesterskap “vir ewig” (v 24) ingestel. Omdat Jesus is wie Hy is, het Hy ook die laatkommers en loodswaaiers “eens en vir altyd verlos: (tree Hy) vir altyd … vir hulle by God in” (v 25).
En, kan jy glo: Hy, hierdie Jesus-hoëpriester, hoef ook nie dag na dag ons sondes op die altaar te plaas nie – Hy het Homself geoffer, eens en vir altyd.
Here Jesus, ek verwonder my oor u eindelose geduld met my. Ek lewe van u tydlose liefde, nou en vir altyd, en tot in alle ewigheid.
Barend Vos