Lees Markus 10:46-52.
“Jou geloof het jou gered.” Dadelik kon hy sien (v 52).
Ons lees hier dat die blinde Bartimeus drie keer gepraat het: Twee keer vra hy dat Jesus Hom oor hom moet ontferm. Die derde keer antwoord hy op Jesus se vraag eenvoudig: “Rabboeni, dat ek kan sien” (v 51).
Nogtans sê Jesus toe Hy hom genees: “Jou geloof het jou gered.”
Dit is nie die eerste keer nie dat die Bybelleser agterkom dat Jesus se opvatting van geloof – ’n geloof wat jou red, nogal – verskil van ons idee daarvan. Hy het omtrent dieselfde woorde gebruik toe Hy die vrou met die bloedvloeiing genees het (Mark 5:34).
Hoekom sal dit vir ons vreemd wees? Dalk omdat ons iets méér van geloof vermoed as ’n rou kreet om ontferming, ’n uitgesteekte hand wat aan Jesus se kleed raak? Is geloof dan nie uiteraard verbete volharding nie? wonder ons. ’n Tandeknersende, handewringende poging om teen wil en dank en te midde van teenstand op jou gekose geloofspad vas te byt nie?
Is geloof – ’n geloof wat red – dan nie die uiteindelike bewys dat jy jou deur niks laat afskrik nie, en dat jy daarom op ’n beloning kan reken nie? Redding uit jou nood? Uitkoms as jy vasgekeer is? Genesing as jy siek is? ’n Ewige lewe?
Waar pas Bartimeus se geskreeu dan in? Kyk, ook die omstanders is ongemaklik daarmee en probeer hom stilmaak. Sulke onstigtelike gedrag hoort darem nie in Jesus se teenwoordigheid nie!
Hulle was verkeerd, daardie mense. Soos ons, tot vandag toe. Want volgens Jesus het geloof – ’n geloof so sterk dat dit jou red – aan sy kern ’n besef van absolute afhanklikheid. ’n Vaste wete: Ék kan nie, Ú moet.
Here Jesus, keer op keer kry ons van u krag. Dan kan ons weer voortgaan, dankbaar, begenadig, genees.
Barend Vos