Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Regeerders

Lees Psalm 146.

Die Here regeer vir altyd … God regeer van geslag tot geslag (v 10).

Weer die blye-galme-psalm, onthou? Die een wat ons liefs moet sing voordat ons te heftig daaroor redeneer of te vurig daaroor preek.

Ons kom in elk geval maar moeilik by “prys die Here” uit as ons reeds hier in vers 3 oor heersers en ander magtiges begin struikel. Ja-nee, val is ons voorland as ons hulle begin ernstig opneem. As ons in húlle ons vertroue stel. Want selfs die bestes onder hulle is maar sterflike mense. Soos ons.

Ons het ’n ander baas nodig. Dié psalmdigter het geen twyfel wie Hy is nie – die God van Jakob, die Maker van die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is.

Dankbare onderdane van hierdie Regeerder moet weet dat sy prioriteite anders is as dié van die regeerders wat ons tot dusver geken het. Hy, hierdie God van Jakob, is ook die God van die ver­druktes en die hongeriges en die tronkvoëls en die blindes en die bedruktes. Hy is partydig vir die vreemdelinge, die weduwees en die weeskinders. Hy maak staat op regverdiges en Hy stuit die goddeloses. Hy is anders, ja. Heeltemal Anders.

Daarom moet hulle daarop voorbereid wees dat Hy hulle soms ongemaklik sal laat voel. Hy stuur sommer maklik een van daardie verdruktes of bedruktes na sy onderdane toe, en dan laat weet Hy: Luister na hulle! Gee vir hulle! Sorg vir hulle! Soos Ek na jou luister en vir jou gee en jou versorg.

Beskou die omsien na hierdie mense as ’n dankbaarheidstaks vir alles wat Ek vir jou doen. ’n Belasting op die toegevoegde waarde van alles wat jy van My, die goeie Regeerder, ontvang.

U is goed vir ons, o God van Jakob! Deur u hand word steeds u volk gevoed.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.