Lees Hebreërs 9:11-14.
Met sy eie bloed … het Hy … ’n ewige verlossing tot stand gebring (v 12).
Verlos? Van wat? Ons is tog lankal by daardie geykte ou denkpatroon verby, nie waar nie?
Ons doen tog wat ons wil, soos ons wil. Ons is dapper. Ons sê en skryf wat ons wil, soos ons wil. Ons is vrymoedig, uitgesproke. Ons het lankal uit die borstrok geklim wat skool, kerk en samelewing aan ons opgedwing het. Ons respek vir die ouerhuis en die destydse waardes word om sentimentele redes in stand gehou, pure nostalgie.
Ons is vry. Ons sal nie toelaat dat iets of iemand ons weer in-perk of vaskeer nie. Daardie dae is vir altyd verby.
Totdat jy jou laataand of vroegoggend of tydens die een of ander weerlose uur iewers voor die spieël bevind. Gedwing word om jouself in die oë te kyk. Te wonder: Wat het van my geword? Waar is die bevryde mens dan? Ek ken hom of haar nie meer nie …
Dit is dan dat ons agterkom hoe ons vir onsself lieg, sonder ophou en op groot skaal. Hoe ons ontken en rasionaliseer en projekteer. Hoe ons vinger wys, vuis wys. Dan sien ons onsself soos ander ons sien. Dan skrik ons.
Dit is vir mense soos ons wat die groot Hoëpriester Homself kom offer het. Met respek: Die gewone soort offer sou nie hiervoor deug nie; ons is dan deurtrek van hierdie groot siekte. Hy sou ons in sy bloed moes dompel, Hy sou ons daarna daaruit moes help opstaan sodat ons ’n nuwe poging kon aanwend om te lewe. Maar dié keer met ’n skoon gewete, verlos van die melaatsheid van eiewaan, eiegeregtigheid, selfbedrog. Hy het dit alles gedoen. Volkome. Só lui die evangelie van verlossing.
Nou lewe ek, Here! En U leer my elke dag hoe.
Barend Vos