Lees Markus 12:28-34.
“Pragtig, Meneer!” sê die skrifgeleerde vir Hom. “Dit is waar wat u gesê het: ‘Die Here is die enigste God’” (v 32).
Dit het maar min gebeur dat die skrifgeleerdes Jesus gekomplimenteer het. Is hiérdie geleentheid nie omtrent die enigste waarvan ons weet nie?
Hoe ook al. Die gesprek begin soos sulke gesprekke maar begin het – die skrifgeleerde hoor hoe Jesus die ander se vrae beantwoord en hy reken om darem ook sy stuiwer in die armbeurs te gooi. Sy vraag oor die heel grootste gebod was egter nie so onskuldig nie. Hy het goed geweet dat daar nie onderskeid tussen die gebooie gemaak mag word nie, en daarom luister hy fyn.
Toe Jesus hom met aanhalings uit Deuteronomium en Levitikus antwoord, klap hy egter hande. “Pragtig, Meneer!”
Ek sou so reken, genugtig! Hy kon maar sy applous vir homself gehou het, en begin het om sy eie “pragtige” belydenis uit te leef. Kyk, om die voorrang van die liefdesgebod bo allerlei seremoniële offers te erken, en om dit netjies te bewoord, beteken nog nie dat jy dit nakom nie.
Maar daar is hoop. Ná sy belydenis bemoedig Jesus hom: Jy verstaan baie van God se koninkryk.
Hierin is báie meer as ’n kompliment geleë; ten minste geen moontlikheid van valsheid of heuning-om-die-mond nie. Dit is die hartlike uitnodiging van die koninkryk se Koning: Kom na My toe!
Markus sê niemand het dit hierna met nóg ’n vraag gewaag nie. Sy woorde – of dit nou ’n antwoord of ’n vraag of ’n storie is wat Hy vertel – konfronteer jou altyd met ’n keuse. En dit maak jou stil.
Vergewe my asseblief my versuim, Here! My maklike woorde en trae dade.
Barend Vos