Lees Deuteronomium 6:1-9.
“Hierdie gebooie … moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders” (v 6-7).
Die Here se voorskrifte vir lewe en liefhê – soms ook “wette” of “gebooie” genoem – is heel anders as die reëls en regulasies waarmee ons samelewing bekend is. Wanneer jy laasgenoemde nié nakom nie, kan jy maar weet jy sal betaal: boete of berisping of die een of ander straf. Tensy jy dit op ’n vindingryke wyse kan vryspring …
Dit is vreemd dat gelowiges so maklik saamstem met die algemene verwarring dat die Here se voorskrifte, daardie wette of gebooie, sonder meer gelyk te stel is aan die reëls en regulasies wat mense ontwerp het om die samelewing se uitwasse in bedwang te hou.
Daarom vra gelowiges gereeld: Is dít sonde? Is dát sonde? Hulle gaan summier op soek na die fynskrif en na elke moontlike gaping in die Here se wette. Hulle probeer om die gebooie met vernuftige voetwerk te omseil. Hul lewe word deur vrees en bewing en opportunisme en rasionalisering geregeer.
Hulle weet nie dat hul opvattings en optrede op ’n fundamentele misverstand berus nie. Hulle besef nie hoeveel vreugde hierdie onbesonnenheid hulle al gekos het nie, hoeveel van hul vryheid as die Here se kinders al deur hul stompsinnigheid opgevreet is nie.
Hopelik hoor hulle dat Hy hier sê hulle moet oor sy wette bly nadink. Dalk dring iets van die ware betekenis daarvan tot hulle deur, sodat hulle hul kinders daarin kan opvoed. Sodat hul huis, hul stad, hul reise en hul drome uiteindelik deur die vreugde en sekerheid en troos gekenmerk kan word wat in daardie wette opgeneem is. Soos die Here dit bedoel het toe Hy dit met al sy liefde aan hulle gegee het.
Leer my lewe tot u eer. En leer my liefhê, Here, soos U.
Barend Vos