Lees Psalm 119:1-4.
Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam (v 2).
Hierdie psalmdigter snap die doel van die Here se sorgsame wette en só help hy ons om af te sien van ons lawwe vrae oor wat sonde is en wat nié wanneer ons die woorde “wette” of “gebooie” hoor. Hy maak ons skaam oor ons lui denke wanneer ons gehoorsaamheid sonder meer met die inperking van vryheid gelykstel.
Dit gaan goed, sê hy, met mense wat die Here se verordeninge gehoorsaam. Die 1933/53-vertaling sê hulle is “welgeluksalig”, dit wil sê, hulle is baie, báie gelukkig. Hier is dus geen teken van ingeperkte, bedrukte en bedremmelde gelowiges nie.
Gehoorsaamheid aan die Here se gebooie, so blyk dit, is toe nie gelyk aan berusting nie – behalwe as berusting ’n glimlag bring, ’n vrolike stappie, grondige troos. Die prentjie hier is nie een van ’n gedweë, gebonde, koponderstebo mens nie. Inteendeel.
Hoe het dit dan gebeur dat gelowiges in hul nadenke oor die Here se gebooie vasgevang geraak het in ’n wet-oortreding-straf-skema? Hoe het ongenaakbaarheid so gou deel van hul geestelike woordeskat geword? Hoe kom “streng” en “kwaad” en “teleurgesteld” so maklik by gelowiges op wanneer hulle aan God dink?
Is dit die prentjie van God in hul gedagtes wat hulle mislei? Staan Hy daar straks met ’n karwats gereed, op soek na iemand om uit te trap, behoorlik te looi? Soos ’n kwaai pa, ’n onredelike baas, ’n mislike onderwyser? Het hul negatiewe beeld van gesagsfigure hul Godsbeeld dan só verwring?
Wie sal tog probeer om “welgeluksalig” se betekenis uit te pluis? Wie onthou dat God met “liefde” rym, en gehoorsaamheid met “dit gaan goed”?
Dit gaan baie goed met my, dankie, Here! U leer my hoe om bly te wees oor U.
Barend Vos