Boodskap vir Vandag

Search

Ten goede

Lees Rut 4:13-17.

Hulle het hom Obed genoem en gesê: “’n Seun is vir Naomi gebore” (v 17).

Die Rutstorie eindig soos ons geweet het dit sou. Soos die meeste liefdesverhale. Geen verrassing hier nie.

Daar is wel Naomi se klomp uitgesproke vriendinne: Jou skoon­dogter is vir jou meer werd as sewe seuns, het hulle ná klein Obed se geboorte gesê. Dit was nogal ’n vreemde opmerking, destyds. Amper so vreemd soos ’n hele Bybelboek oor twee vroue se wel en wee. Die manne staan deurentyd op die kantlyn, behalwe wanneer hulle later ’n bietjie kragte meet oor ’n vrou, soos manne maar maak.

Die hoofkarakters hier is skoonma Naomi en skoondogter Rut, weduwees op soek na ’n nuwe heenkome. Naomi die bittere, wat voel dat die Here sy rug vir haar gedraai het; Rut die Moabitiese vrou, wat haar aan Naomi én aan dié se God verbind het.

Dit sou ’n lewensveranderende verbintenis word. Rut se nou­gesette navolging van die ouer vrou se planne sou vir haar ’n op­windende toekoms inlui. En die verkleefdheid aan haar skoonma se God sou haar lewe met ’n nuwe betekenis vul – al het sy dít waarskynlik nooit geweet nie. Eers latere geslagte sou agterkom hoe God dinge laat uitwerk het.

As jy, liewe leser, ’n ekstra tydjie het, lees nou ook die laaste vyf verse van hierdie verhaal. Ja, die geslagsregister. Kyk waar pas wie in.

Blaai dan na Matteus 1 en lees die eerste klompie verse daar. Ja, dáárdie geslagsregister. Kyk waar pas wie in, en hoe bekend die name eensklaps klink. Verstom jou dan gerus oor hoe die God­delike hand in gewone mense se geskiedenis werk.

Hoe dinge toe uitwerk, hoe álles ten goede meewerk.

U verbind U aan u kinders, en ons pluk elke dag die heerlike vrugte daarvan.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.