Lees Psalm 127.
Tevergeefs dat julle … met moeite ’n bestaan … maak (v 2).
Is daar ’n moedeloser woord as “tevergeefs”? Jy sien sommer hoe hang sy ore, jy hoor hoe hyg hy na die asem wat hy nie meer het nie. Moed opgegee, moeg probeer, klaar met kees. Nou is alles verby, dit was oplaas ’n gejaag na wind.
Wanneer ons hierdie moeë woord herhaaldelik in dié psalm aantref, ruk dit ons wakker. Want wat is immers edeler as huis bou, as stad beskerm? Met moeite ’n bestaan probeer maak? Dit is tog alles dinge wat aangepak word deur mense wat die mooiste motiewe het. Dit wat jy sal verwag by hulle wat die lewe in alle erns aandurf, wat daarna streef om verantwoordelik op te tree.
Dit is goeie mense, dié bouers, die beskermers van huis en haard, hulle wat hul brood eerlik verdien. Maar dit is aan al hierdie voortreflike pogings waaraan die digter die “tevergeefs”-etiket hang. Hoekom is hy so negatief oor mense wat tog eerlik bedoel om goed te doen?
Eenvoudig, blyk dit: Ons moenie so ywerig aan ’t werskaf raak dat ons vergeet waar alles vandaan kom nie. Dat huis en haard en beroep en familie die Here se kosbare geskenke aan ons is nie. Dat die lewe en al sy beste middele ’n genadegawe is nie.
Want mense soos ons loop gevaar dat harde werk ’n doel op sigself word. Dat geskenke as vanselfsprekend aanvaar en ons beste pogings deur eiebelang gekaap word.
Só verloor ons ons afhanklikheidsbesef, so word ons verskuldigde dankbaarheid teenoor die Here versaak. En dan is alles inderdaad tevergeefs.
Here, U gee my alles wat goed is in my lewe. Leer my wat om daarmee te maak, wys my hoe om dankbaar te leef.
Barend Vos