Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Goddelose Godsmanne

Lees Markus 12:38-40.

“Pas op vir die skrifgeleerdes … Hulle sal baie swaar gestraf word” (v 38-40).

Dit is ’n groot beskuldiging waarmee Jesus hier vorendag kom: Die skrifgeleerdes, die Godsmanne, palm weduwees se huise in. Genugtig!

Maar Hy sou dit nie gesê het as dit nie die onheilige waarheid was nie. Dit is natuurlik waarom hulle van Hom ontslae wou raak – Hy openbaar hul korrupsie. Hy verklap dat hulle, die voorste kerkmense, die vernaamste onderdrukkers is. Uitbuiters van die weerloosstes. Doodgewone diewe, niks minder nie.

Maar hulle bid dan so mooi! sal ons sê. Kyk hoe pragtig trek hulle aan en kyk net waar sit hulle in die kerk. Dit kan mos nie wees nie! Hulle gaan ons dan in die feesmaaltye voor. Ek groet hulle graag, hulle is die vooraanstaandes van ons samelewing, pilare in ons kerk.

Hier volg ’n waarskuwing: Bly ver weg van hulle af! Hulle sal swaar gestraf word – en straks beland jy dan in die spervuur. Ver­my hulle soos die pes. Moenie ingetrek word by hul mooipraatjies nie, moenie dat hul swierigheid jou mislei nie. Moet tog nie hul uitnodigings na die feesmaaltye aanvaar nie; hulle is nie gaaf met mense by wie hulle niks kan aas nie. O, en sluit jou ore vir hul gebede. God doen dit ook.

Niks in hul optrede is tot jou heil nie. Skaar jou eerder by Jesus. Weet net dat dit nie so spoggerig daar by Hom lyk nie. Hy is wel maklik herkenbaar. Hy is mos deurentyd besig om sy weerlose kinders teen skaamtelose godsdienstigheid te beskerm. Hy leer hulle hoe om in afhanklikheid van God te lewe, en in alle eenvoud.

Here, leer my elke dag die waarheid van u Woord. Laat my die voorreg waardeer om met U te mag praat. En gee my vreugde in u voorsienigheid.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.