Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Wonderwerker

Lees 1 Konings 17:8-16.

Van toe af het hulle genoeg gehad … soos die Here … beloof het (v 15-16).

“Die weduwee se kruik” het ’n spreekwoord geword, en ’n mooi Afrikaanse liedjie. En vir gelowiges ’n bemoedigende simbool van die Here se inmenging in ons klein geskiedenis.

Die storie hieragter is bekend: Die profeet ontmoet ’n moede­lose weduwee in Sarfat. Sy staan op die punt om haar laaste bietjie meel en olie te gebruik om vir haar en haar seun kos te maak. Vir oulaas. “Daarna moet ons maar doodgaan,” sug sy (v 12).

Maar Elia het ander planne, soos dit maar met profete is. Hy wil self die laaste roosterkoek hê, sê hy. En, voeg hy by, moet jou nie bekommer nie, die meel in die kruik sal nie opraak nie en die olie ook nie. En só was dit toe.

Vandag klink dit alles ’n bietjie verdag – soos ook die storie, eeue ná hierdie een, oor die seuntjie met die vissies en broodjies, en Jesus wat daardie skamele kossies baie gemaak het. O, toggie, sal die skeptici kraai, hier word die pap darem gans te dik aangemaak!

Miskien, sal baie gelowiges heimlik toegee, moet ons dié soort verhale maar as simbolies beskou, as beeldspraak oor God se sorg. Reg vir ’n liedjie en nommerpas vir ’n spreekwoord, maar niks meer nie.

Só blaai moderne gelowiges hier verby. Wel, sommige van hulle. Daar is wel ander vir wie God se troue sorg geen taalverskynsel of teologiese konstruksie is nie. By hulle is die pap maar dun, maar die dankbaarheid loop dik. Hulle sien met hul eie oë die Here hou die kruik gevul – hóé, weet hulle nie. Maar hulle het altyd genoeg, ook om aan vreemdelinge en slimjanne uit te deel.

U Naam is Voorsienigheid. Versorger. Goeie Vader. Wonderwerker.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.