Lees Hebreërs 10:11-14.
Jesus Christus het … vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is (v 12-13).
Wie sou hulle wees, dié Christusvyande? Tog seker nie meer die Joodse godsdiensleiers wat Hom opgehang het nie? Pilatus wat sy hande in kamma-onskuld gewas het nie? Judas wat Hom gesoen het nie? Dit, húlle, is tog geskiedenis. Ou koeie in ’n bitter diep sloot. Lankal begrawe, lankal vergaan.
Die dood, daardie “laaste vyand” (1 Kor 15:26), lê bowendien en hyg sy laaste asem uit. Ná Jesus se opstanding is ook hy verslae en verslaan.
Die Bose? Nee, wat. Nadat die dood die aftog moes blaas, grom boosheid nog net. Sy blaf is al wat hy oorhet; sy tande is getrek, sy byt finaal verwyder. Steeds jaag hy dié wat nie van beter weet nie die skrik op die lyf, maar dit is so ver soos sy mag strek.
In elk geval, sê die Hebreërskrywer, staan hierdie Hoëpriester nie meer soos die ander priesters terwyl die offers gebring word nie. Nee, Hy het gaan sit. Daar aan God se regterhand sit en wag Hy totdat Hy op die vyand kan trap, soos op ’n voetbankie.
Maar watter Christusvyande het dan oorgebly? Waar kruip hulle weg? En hoe lank dink hulle sal hulle kan uithou voordat Christus sy voet finaal neersit?
Moet gelowiges nie maar begin toegee dat in hul eie hart soveel boosheid skuil, soveel vermomde vyandskap teen God, dat dit dalk een van die Christusvyande se vernaamste wegkruipplekke geword het nie? Is dit nie vir gelowiges gebiedend noodsaaklik om dit te verwyder, te verban nie?
Hoe? Deur bloot uit te roep: “Ons Vader, verlos my van die Bose!”
Was U my, Heiland, maak my rein!
Barend Vos