Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Misleiding

Lees Markus 13:1-8.

“Sê vir ons, wanneer sal dit gebeur en wat sal die teken wees …?” (v 4).

Jesus antwoord hulle só: Hy vertel van die nuwe tyd se eerste tekens. Én Hy waarsku hulle teen mense wat sal probeer om almal te mislei, bedrieërs wat hul lyf messias kom hou. Daar is baie van hulle, sê Hy.

Dit was twee duisend jaar gelede. Sedertdien het hulle opge­daag, báie van hulle. En elkeen het kom sê, keer op keer, soos Jesus gewaarsku het: Dit is ék. Ék het die waarheid. Luister na mý!

Vreemd genoeg het diesulkes nog nooit gesukkel om ’n gehoor te kry nie. Inteendeel, in die meeste gevalle het die aanhangers na hulle toe gestroom. Gereed om gered te word. Met al hul verwag­tings en wense en begeertes byderhand, en te veel van hul geld.

Net om mettertyd teleurgesteld om te draai, hartseer daar weg te loop. Verbitter te voel, verneder. En gekul.

Maar wat, dit is nie honderd jaar nie, dan verskyn daar weer een op die horison en skreeu, Bybel onder die blad: Hiér is ek! Die tragedie is dat daar telkens ’n nuwe geslag liggelowiges opstaan en sê: Hier is ons! Neem ons saam!

Só kom hulle, elke dekade een en selfs meer, en elkeen het sy eie dag en datum en roem en rympie. Keer op keer kom vang hulle goeie mense wat met blink oë wag, en maak van hulle terneer­gedrukte, ontgogelde, bevreesde en uiteindelik gewese Christene.

Ons moet luister wat die ware Christus alles sê en nie ons ore uitleen aan die sogenaamdes en die ander kansvatters nie. Hy is die Een. Van húl soort was daar reeds baie, en die einde is nog nie in sig nie.

Ek leef getroos in die wete dat ek aan U behoort, Here. Leer my om net op U te vertrou.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.