Lees Psalm 16.
Wat ek ontvang, kom alles van U af. ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi (v 5-6).
Blyplek. Werkplek. Geboorteplek. Ontmoetplek. Kuierplek.
Ons lewensverhaal is ’n storie waarin plekke die hoofrol speel. Dit kan nie juis anders nie; ons bestaan nie in ’n lugleegte nie. Ook mense wat reken dat hulle sonder ander mense kan klaarkom, trek hulle in hul eie plek terug – al is dit ’n klein, klein hoekie. Mý plek, sal hulle sê.
Hierdie psalmdigter se omvattende dankbaarheid oor God se sorg sluit ook die blydskap oor die Here se voorsienigheid in. Ook omdat Hy gesorg het dat hierdie Godskind ’n plek het. ’n Ruimte wat, só glo hy, deur die Here self afgemeet en aan hom gegee is.
Dit is vir hom mooi, sê hy. In die 1933/53-vertaling lui vers 6 só: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”
Dit bevestig, in watter vertaling ook al, ons geloof dat God se kinders nie per ongeluk of toevallig op ’n plek beland nie. Daar is ’n Hanteerder van ’n meetsnoer, ’n Landmeter met ’n plan. En Hy, dié Bepaler van plek, is ook die Gewer daarvan. Hy deel uit aan wie Hy wil, wat Hy wil, waar Hy wil.
Gereeld kom dié vraag egter: Waarom is die ontvangers nie altyd sonder meer dankbaar nie? Hoekom is die gegewe plek altyd té warm, té koud, té besig, té afgesonder, té armoedig, té snobisties, té dit en té dat? Waarom die voortdurende hunkering na ’n ander plek?
Dalk werk dit hier ook maar so: Eendag, as jy op daardie ander plek terugverlang na die plek waar jy eens was, skaam jy jou oor jou stiksienige ondankbaarheid.
Dankie, liewe Here, vir hierdie lieflike plek wat U vir my uitgemeet het.
Barend Vos