Lees 2 Samuel 23:1-7.
“Al my hulp, al my vreugde, dit kom van Hom af” (v 5).
Die skrywer van 2 Samuel noem dit “die laaste woorde van Dawid”. Is dit dan iets soos ’n sterfbedpsalm? ’n Groetwoord van die een of ander aard?
Wie weet? Dit maak nie eintlik saak nie; die waarheid is dat dit ’n terugkyklied is, ’n nabetragting. ’n Bestekopname van waar hy, die koning, met sy Koning staan.
Dít staan soos ’n paal bo water: Wat ek, die koning, is, is deur God se genade. Wat ek gesê het, was die woorde wat Hy aan my voorgesê het. Die opdragte wat ek ontvang het, het uit sy mond gekom. Daarom was my regeertyd ’n geseënde tyd, want Hy was my Seën. My Hulp. My Vreugde.
Wat ’n wonderlike getuienis! Wie sal dié koning dit kan nadoen?
Ons kan. Ons, die Here se kinders, wat met ’n gebalanseerde geheue geseën is. Ons wat, onbelemmer deur ’n donker bril en onopgeloste swartgalligheid, op die pad terugkyk waarlangs ons gekom het. Ons wat, dikwels met moeite en ná baie trane, geleer het dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet (Rom 8:28).
Die Here se kinders het alle rede om by hierdie Dawiddanklied in te val. Hulle is trouens die mense wat hierdie lied moet aanhef, wat ander daarin behoort voor te gaan.
Almal wat dit hoor, juis ook hulle met die duister verlede en donker voorspellings, moet kan sê: Hoor net daar! Dit is die Koning se lied, deur die Koning se kinders gesing. Hoor julle ook die dankbaarheid in elke akkoord, die vreugde in elke woord? Sal ons dan nie saamsing nie?
Heer, met my hele hart kom sing ek ’n lofsang, wil ek van u magtige wonders vertel en van al u reddingsdade.
Barend Vos