Lees Psalm 132:1-12.
Ter wille van u dienaar Dawid, moet tog nie u gesalfde verstoot nie (v 10).
Dit is interessant dat ’n pelgrimslied soos dié, ’n saam-op-reis-lied, ingelei word deur ’n herinnering aan Dawid se eed teenoor die Here om vir Hom ’n tempel te bou. Almal weet dat dit toe nie gebeur het nie, dat die Here self ’n stokkie daarvoor gesteek het. Dat Hy, daarenteen, vir Dawid belowe het om sý huis te seën.
Dalk is dit nie so vreemd nie: Die reisigers is immers op pad na ’n ontmoeting met daardie einste Here wat Hom nie laat insluk deur menslike planne nie, al is hulle ook hoe goed bedoel. Hy is God, Hy is nie manipuleerbaar nie. Só sing hulle, vol eerbied, oor hul reis wat sy einde nader en wat hulle tot by die aanbiddingsplek bring.
Dáár blyk die rede vir hul lied: Onthou tog ook Dawid se goeie bedoelings, Here! En onthou asseblief ú belofte aan hom.
Is dit nie erg aanmatigend nie? Om darem die Here aan sy beloftes te herinner! Wat is die kanse tog dat Hy ooit enigiets vergeet? Óns is die vergeetagtiges, boonop dikwels doelbewus. Dink ons dalk Hy is soos ons?
Laster! sal die teologies suiweres straks uitroep. Niks minder nie as heiligskennis!
Toemaar, toemaar. Dalk is dit net menslik, hierdie herinnering. Soos kinders maar met ’n pa maak as hulle nie meer kan wag op die waarmaak van ’n belofte nie. As hulle onseker voel. Wanneer hulle troos nodig het. Wanneer hulle met dun stemmetjies tog net weer wil weet: Is Vader nog lief vir my?
Here, U bevestig u goedheid dag na dag aan ons, u brose kinders. Leer ons om goed te hoor, mooi te kyk. En getroos te lewe.
Barend Vos