Boodskap vir Vandag

Search

Troosboek

Lees Openbaring 1:4b-8.

“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige (v 8).

Hierdie klompie verse verteenwoordig die aanhef tot dié veel­besproke boek, en daarom is dit nie verrassend nie dat daar hier een lang sin voorkom wat die evangelie tot op hede saamvat: “Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos.”

(v 5-6). En een lang sin wat die toekoms belig: “Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien” (v 7).

’n Veelbesproke geskrif, hierdie Openbaringboek, ja. Én om­strede. Deur die eeue heen, en tot vandag toe, word daar steeds boeke en boekdele hieroor geskryf. Dit word gepreek, gevrees, vermy. Dit word as toekomsvoorspelling bedryf en as uitgebreide dreigement rondgeslinger. Dit fassineer omtrent almal wat hier­mee te doen kry – en daar is ongelukkig ook dié wat hierdie reaksie uitbuit. Soms uit onsekerheid, dikwels vir eie gewin.

Eintlik is dit ’n troosboek. Die slimjanne kon maar net hierdie eerste klompie verse aandagtig gelees het. Hier sou hulle gehoor het hoe dit was, hoe dit is en hoe dit sal wees. Hulle sou veral moes oplet dat verlede, hede en toekoms vir gelowiges nie ’n tydsbegrip is nie, maar ’n Persoon. Daarby ’n Baie Bekende Persoon.

Daar is dus niks te vrees nie. Inteendeel. Hier leer jy reeds dat Hy die wêreld in sy hande het. Nog altyd, en vir altyd. Hy het nie geabdikeer nie; Hy is Koning in sy koninkryk. En Hy sal jaloers daaroor bly waak. Soos oor ons, sy kwesbare koninkrykskinders.

As dit jou nie troos nie, liewe Openbaringleser, sal niks anders dit regkry nie.

Here, leer my om verby slimstories te bly soek na u waarheid. Om U te glo te midde van kansvatters se goedkoop geklets.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.