Lees Johannes 18:33-37.
“Dan is jy tog wel ’n koning?” vra Pilatus (v 37).
Tydens die doodsnikke van Jesus se klugverhoor vra Pilatus Hom oor die Jode se motiewe. En oor die bewering dat Hy die koning van die Jode is. Jesus se antwoord is eenvoudig: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (v 36).
Ek weet nie of Pilatus dit verstaan het nie. Dalk was hy net verlig dat daar toe nie ’n opstand uitgebreek het nie, iets wat sekerlik sou gebeur het as Jesus se koninkryk “van hierdie wêreld” was.
Ek is daarvan oortuig dat selfs hulle wat die naaste aan Hom was, probleme gehad het om die aard van dié anderwêreldse koninkryk te begryp. As hulle goed geweet het waaroor Jesus hier praat, sou hulle minder geneig gewees het om so ywerig vir ereposisies in daardie koninkryk te mik. Sou hulle minder eksklusief en meer insluitend oor sy koninkryk gedink het. Sou hulle vrae gevra en opmerkings gemaak het wat minder in pas was met wat die mense wou hê. Sou hulle minder bekommerd gewees het oor wat hulle self daaruit kon kry. Sou hulle voortdurend gevra het wat die Koning wil hê hulle moet doen.
Koninkrykskinders sukkel tot vandag toe met hul begrip van waar hulle in die koninkryk pas. Hulle vrae hieroor – ás hulle hoegenaamd vrae vra; hulle is dikwels baie seker van hul saak – wentel steeds om eiebelang, eie eer, eie voordeel, eie ek. Hulle soek voortdurend bevestiging van hul vooroordele.
’n Onbetrokke buitestander sal trouens dikwels moeite hê om tussen hedendaagse koninkrykskinders en die destydse vrome Jode te onderskei. Daar is ’n algemene geneigdheid om die koninkryk se waarheid op die altaar van eiegeregtigheid te offer.
Wys my, Here, wat ek moet doen. Maak my dan gewillig om U te gehoorsaam.
Barend Vos