Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Ewig

Lees Psalm 93.

Vas staan u troon van ouds af: U is van altyd af daar (v 2).

Ons begryp dit moeilik. Trouens, baie van ons het al heeltemal moed opgegee – verstaan sal ons dit nooit verstaan nie: ewigheid. Spesifiek, God wat ewig is. Van altyd af, vir altyd.

Ons taalgebruik druk ons onmag uit om dit te begryp. Ons sê: tot in alle ewigheid. Ons sê: oneindig, en gebruik uitasemwoorde soos “nooit” en “ooit”.

Soms teken ons ’n sirkel, en dan vra ons: Wys my waar is die begin? En sê my tog waar is die einde? Of ons trek ’n reguit lyn met twee pylpunte weerskante en sê: Sien? Sonder begin, sonder einde!

Daar is dié wat vertel van die voëltjie wat een keer per jaar sy skerp bekkie een maal oor ’n reusediamant sleep en, sê ons, as daardie diamant opgeslyp is, dan is een oomblik in die ewig­heid verby.

Só probeer ons hierdie onbegryplikheid kleinkry.

Dié psalmdigter deel nie ons probleem nie. Vir hom is dit heel eenvoudig: Hy wys bloot na God en sê: “U is van altyd af daar … tot in lengte van dae” (v 2-5). Hy antwoord ons só: Kyk bloot na God – Hy is ewig.

Hy sal by ons wil weet: Hoekom wil jy die Here probeer uit­pluis? Wat wil jy maak as jy weet? Kan jy enigiets by jou eie leeftyd voeg as jy die antwoord op die ewigheidsommetjie gevind het?

Hy sê: Kyk op – en sien die troon van God! Moet jou nie be­kommer oor die groot dinge nie. Dit was nog altyd daar en sal altyd daar wees. Benut jy maar net die brokkie van die ewigheid wat aan jou gegee word. En sing so lank jy kan vir die ewige God.

Ewige Here, hoe goed sorg U nie vir u kleine kinders nie! Hoe groot is U!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.