Lees Jeremia 33:14-16.
Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek die goeie belofte sal nakom (v 14).
Ons lewe word gevul deur ander se beloftes aan ons. Toe ons klein was, kon ons nie wag dat ons ma of pa of ouma of oupa se goeie beloftes (dalk bloot ’n lekkertjie as ons soet was) bewaarheid word nie. In later jare word die beloftes groter – daar is byvoorbeeld dié wat aan ’n ander een trou beloof – én die verwagting op die vervulling daarvan insgelyks.
Die grootste probleem met beloftes wat mense aan mekaar maak, is die mense wat dit aan mekaar maak. Want slinkse mense maak mooi beloftes om hul slinksheid te volvoer. Gierige mense maak mooi beloftes om hul gierigheid te voed. Desperate mense maak mooi beloftes om hul desperaatheid te besweer.
En hulle aan wie die beloftes gemaak word? Hulle is ewe desperaat, en dikwels ewe gierig en ewe slinks.
Ja-nee, die probleem met beloftes lê nie in die beloftes nie. Dit lê by die mense wat dit maak en by dié wat dit glo.
Wanneer ons dus hier van een van die Here se vele beloftes verneem, is die een helfte van ons probleem opgelos – dit is ’n Goddelike belofte dié. By Hom is daar geen verskuilde motiewe of onvoltooidheid nie. Hy hoef niks te belowe nie, maar Hy weet hoe nodig ons dit het om beloftes van Hom te ontvang.
Die ander deel van ons probleem met beloftes geld egter steeds – onsself. Ons wat, gedagtig aan al die bloutjies wat ons al met beloftes geloop het, nie seker is of ons hierdie een kan glo nie. Ons loop dan dikwels van die heel grootste geleenthede in ons lewe mis. Vra maar vir Ou Israel.
Ek glo U, Here! Kom asseblief my ongeloof te hulp.
Barend Vos