Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Padwyser

Lees Psalm 25:1-10.

Die Here is goed en regverdig: Hy wys selfs vir sondaars die pad aan (v 8).

Ons het hierdie psalm vroeg in die jaar ook gelees. Intussen het daar ’n hele leeftyd verloop – vir baie was dit veelbewoë dae, weke en maande. Knaende kommer en kla. Daar was goddank soms ook vreugdes en vrede.

Wanneer ons nou hierop terugkyk, staan ons dikwels verwon­der oor die Here se pad met ons. Deur die donker dieptes het Hy ons vergesel, ons opgetel en gedra. Die kere toe ons pad met rose besaai was, het Hy ons elke stukkie vreugde en soete bevrediging daaruit laat geniet.

Soms sukkel ons om te glo dat alles wel gebeur het, dat ons alles beleef én oorleef het. Ons het tot hier gekom, weet ons, maar beslis nie uit eie krag nie. Sondaars het doodgewoon nie soveel krag óf koers nie; ons is tot hier gebríng.

Nou is ons hier. En buiten ’n terugblik, is daar dié tyd van die jaar ook genoeg geleentheid vir vorentoe kyk. Vir planne maak, drome droom.

Juis ook vir nuwe voornemens. En ís daar vir sondaars ’n beter voorneme as om te bly op die pad wat vir hulle aangewys is? Veral omdat hulle weet wie se aanwysings hulle volg en in wie se spore hulle loop? Is daar enige ander manier om uit die moeilikheid te bly – méér: om die vrede en vreugde van dié pad te beleef?

Hoe salig om te weet dat sy goedheid ook vir my insluit. Dat sy regverdigheid nie klippe in my pad rol nie, maar my juis leer hoe om die duwweltjies te vermy.

Nee, dit is nie ’n hoofweg dié nie. Dit is wel die beste pad – en boonop is die tol reeds betaal.

Waar U my voorgaan, sal ek gaan. U pad is my pad.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.