Lees 1 Tessalonisense 3:9-11.
Mag God ons Vader self en ons Here Jesus ons pad na julle toe oopmaak! (v 11).
Op ons lewenspad is daar baie mense wat dieselfde koers as ons volg. Hoe bevoorreg is ons! Hoe begenadig om voortdurend sulke medereisigers naby ons te hê.
Die beste van alles is dat ons hiér gedurig nuwe mense ontmoet. Mense op dieselfde pad – dalk van lankal af hier, en soms nuwelinge – met wie ons soveel gemeen het. Mense wat ons lewe verruim en verryk met hul perspektiewe en planne. Met hul vriendelike toegeneentheid, wat sommer gou tot volskaalse wedersydse liefde groei.
Daarom verstaan ons iets van Paulus se opgewondenheid oor die mense in die gemeente van Tessalonika en sy groot wens om hulle binnekort weer te sien. ’n Vinnige kykie in dié brief wys ons dat hierdie mense vir Paulus en Timoteus ’n ware oase was midde-in moeilike reise. So sê dié briefskrywer-apostel dat hy nie eintlik weet hoe om die Here vir hulle te dank nie. Dat hy hulle darem bitter graag sal wil sien om persoonlik dankie te sê.
Dit is die ding met geliefde medereisigers op die Here se pad – ons is nie altyd naby mekaar nie. Dit is ’n troos om in die gees by mekaar te wees, maar van aangesig tot aangesig is tog die eintlike vreugde, of hoe? Op dié manier hoor ons nie net mekaar se woorde nie, maar beleef ook mekaar se lyftaal. Nog beter: Dan kan ons aan mekaar vat. Mekaar regtig in die oë kyk en sê: Dankie vir wat jy vir my gedoen het. Dankie vir wat jy vir my is.
En ons mag sekerlik ook vir Paulus só eggo: Ek dank die Here omdat julle my bly maak!
Hoe goed is U vir my, Here! Om so baie sulke mense oor my pad te stuur …
Barend Vos