Boodskap vir Vandag

Search

As Hy weer kom

Lees Lukas 21:25-28.

“As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby” (v 28).

Die einde van alles wat vir ons lief en dierbaar was (waarvoor ons tog so bitter bang is), is ook die einde van alles wat vir ons sleg en swaar was (en waarvoor ons so dankbaar is). Dit is waaroor Jesus dit hier het: die Einde.

Maar Jesus noem dit “julle verlossing”. Hy sê aan sy volgelinge hulle moet orent kom wanneer hierdie dinge begin gebeur, kop omhoog. Vreesloos. Uitdagend. Afwagtend. Dankbaar. Soos dit mense betaam wat uiteindelik sien hoe naby hul finale bevryding is.

Hoe dan anders? Dit is die geboorte van die nuwe; die oue is vir altyd verby. Dit is vaarwel aan ellende, droefheid en dood. Daar breek ’n nuwe dag. Dit is die begin van ’n heel ander lewe saam met Hom, die Gans Andere.

Jesus Christus se tweede koms was deur die eeue ’n belangrike deel van gelowiges se belydenis. Hulle sê dit dikwels hardop saam met medegelowiges, naamlik dat hulle glo dat Hy – wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God die almagtige Vader – weer sal kom.

Dit onderskei die Christelike geloof van alle ander gelowe: Die Verlosser kom weer, hierdie keer vir die finale verlossing. Dít is die heerlikheid waarin sy verlostes hulle kan verheug: Die oor­deel oor die Bose en sy trawante het aangebreek. Hul einde is ons nuwe begin.

Onthou: Jesus se weerkoms is nie ’n dreigement nie, dit is ’n allertroostende belofte. Ons weet dit mos. Ons het as kinders reeds geleer om vrolik daaroor te sing.

Ja, ons wag op U, Here, en ons sing tot u ere. Want U kom weer, vir seker, om ons te kom haal.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.