Lees Lukas 21:29-33.
Toe vertel Hy hulle ’n gelykenis: “Let op die vyeboom en al die ander bome” (v 29).
Jesus het gelykenisse gebruik om waarhede oor God se koninkryk duidelik te maak. Soos prentjies by ’n ingewikkelde stuk teks, sodat selfs kinders dit kan verstaan. Op dié manier wou Hy sy toehoorders wys hoe God dink. Hoe Hy oor hulle, sy kinders, dink.
Hiér sê Jesus: Wees op die uitkyk vir God se somer. Kyk na die bome, sê Hy. Let op die tipiese tekens dat die seisoen wat God beplan op pad is.
Dit is ’n mooi beeld, nè? So anders as wat ons dit sou teken. Ons sou reken dit is niks minder nie as ’n winter wat kom. Koud en ongenaakbaar. Iets waarvoor ons vervaard moet voorberei, onseker of ons voorsorg voldoende sal wees vir die ontbering wat wag.
Hoekom sou dit wees? Waarom verwag gelowiges sonder meer “die ergste” wanneer oor Jesus se weerkoms gepraat of gedink word? Is dit dalk ons manier om ons gereed te maak vir ’n finale oordeel, ’n laaste boetedoening wat ons toe tóg nie vrygespring het nie? Is dit die doodsangs dat alles uiteindelik op die lappe sal kom? Dat wanneer die boeke oopgemaak word, ál die adders sal uitkruip wat ek teen my bors gekoester het?
Vergete, eensklaps, is die prys wat Jesus daarvoor betaal het. Die doodsangs wat Hy aan die kruis verduur het om die slang se kop te vermorsel.
Nee, nee. Ons God se somerse teenwoordigheid bring warmte. Sy nabyheid getuig van ’n seisoen van toegeneentheid en vrede. ’n Jaargety vol optimisme soos nooit tevore nie, van spel en baldadigheid en baie vreugde.
Ek hou my oë oop, Here-van-die-wolke! Ek kan nie wag nie …
Barend Vos