Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Waaksaamheid

Lees Lukas 21:34-36.

“Wees op julle hoede dat julle gees nie … deur die sorge van die lewe afgestomp word nie …” (v 34).

Waaksaamheid is iets anders as angs. Waaksaamheid wéét. Angs weet niks, angs rym met sweet en sorge.

Waaksaamheid oor die weerkoms word gebore uit die waar­skuwing deur Hom wat weer kom. Hy sê: “Wees op julle hoede …”

Maar let nou ’n slag op: Jesus se waarskuwing wil nie vrees aanwakker nie, eerder presies die teenoorgestelde. Jesus sê ons moet tog nie onverhoeds betrap word nie. Onder meer sê Hy ons moenie so deur die lewe se sorge afgestomp word dat ons nie meer sensitief is vir die tekens van die naderende somer nie.

Dit is tog ’n wesenlike gevaar, nie waar nie? Ons word dag na dag met allerlei aanslae gebombardeer, ons koes ons lewe lank vir die kartetse wat rondom ons val. Ons bring ons dae vol angs deur, voortdurend aan ’t hoop en bid dat die ergste ons tog nie moet tref nie. Die een plek waar ons veilig moet wees, die kerk – waar ons skuiling teen die laaste, woedende winterwinde moet vind – se deur staan dikwels net op ’n skrefie oop. Ons is nie altyd seker oor daardie ruimte nie …

Is daar ’n groter lewensorg as om nie ’n adres te hê waar jy kan krag kry nie? Daar is immers geen beter plek om jou waaksaam­heid opgeskerp te hou as Jesus se kerk nie.

Dit is tog dáár waar ons week na week ons verskyning voor Christus beoefen. Hiér leer ons dat ons niks te vrees het nie – die Here van Sondag is die Here van elke dag. Die Koning, wat daardie eerste Kersfees gekom het, is ook die triomfantelike Een van die tweede koms.

Leer my waaksaamheid, Here Jesus! Hou my weerbaar, opgewonde.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.