Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Padmakers

Lees Maleagi 3:1.

Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak (v 1).

Ons sal nêrens kom as dit nie vir die padmakers in ons lewe is nie. Meestal is dit ’n ouer wat kinders se paaie gelykmaak, soms ook ’n onderwyser. In hierdie lewe is daar darem nie net die-gene wat struikelblokke in ander se pad rol nie – daar is ook dié wat dit verwyder. Hulle wat ’n ander se reis moontlik en dikwels lekker maak.

Selfs Jesus het ’n padmaker gehad. Johannes die Doper se pa sê vir sy seuntjie: “En jy, kindjie … jy sal voor die Here uit gaan om sy pad gereed te maak …” (Luk 1:76).

In hierdie laaste boek in die Ou Testament is daar ook van ’n padmaker sprake, ’n boodskapper wat die weg vir die Here se koms na sy tempel sal voorberei. Hy word “die Verbondsengel” genoem. Sy opdrag is om die gelowiges se hoop te kom waar maak.

Die nuus oor Hom is dus nie ’n dreigement nie, maar ’n aan­gename belofte. Iets om na uit te sien, die verwesenliking van vreugde. Só “sê die Here die Almagtige”.

Wie sou dié boodskapper wees, en moet ons dalk sy naam met ’n hoofletter skryf? Wat en hoe is die pad wat Hy kom voorberei? En sal die mense na wie toe Hy kom, Hom aanvaar? Sal sy ver­skyning hulle bly maak? Sal hulle daarin iets van die Almagtige se Groter Plan raaksien?

Hopelik wel. Hopelik hou hulle Hom fyn dop, luister hulle na sy aanwysings, volg hulle in sy voetspore. Want al weet hulle nie alles nie, weet hulle wel dat Hy gestuur is om hulle na God te lei. En wat wil hulle meer weet as dit?

Wys my elke dag die spoor, Here. Lei my daarop, maak my ’n ywerige volgeling.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.