Lees Maleagi 3:2-4.
Hy is soos die vuur van die smelters en soos die seep van die wassers (v 2).
Dié padmaker, die boodskapper wat “die Verbondsengel” genoem word, bring nie sonder meer blydskap nie. Sý padmakery brand deur die ruigtes en maak skoon wat voorkom. Hy begin ook nie daar waar ons sou reken Hy sy werk moes begin het nie. Hy gaan sit … in die kerk.
En Hy roep die kerkamptenare nader, die Leviete wat die offers voorberei, en Hy begin hulle ondervra. Soos ’n regter, skryf Maleagi.
Sy doel? Dat Hy hulle kan suiwer, kan louter soos goud en silwer, sodat hulle offers kan bring “wat bestaan uit regdoen” (v 3).
Dit is nie ’n verrassing nie. Die Here se harde oordeel oor die kerk se gebruike klink gereeld in die Ou Testament op. Hy wil nie brandoffers of graanoffers of diereoffers hê nie, sê Hy dan; Hy vra gehoorsaamheid, verootmoediging, berou (Ps 40:7; 51:18-19).
Dit gaan dus oor ’n ingesteldheid, ’n mentaliteit. Jou hart voor die Here. Dit is waaroor die skoonmaakproses gaan, dit is waar die padmakery begin – in die kerkmens se hart.
Want offers brand vinnig en maklik en die reuk versprei gou. Maar dan word die oorblyfsels van die altaar verwyder en die rook verdwyn en die as dwarrel weg – en die lewe gaan voort soos gewoonlik. En die mens wat offer se hart? Wat het daar gebeur? Hoe vinnig het die prosesse daar verloop?
Dit bly vir kerkmense deur die eeue heen ’n ontnugtering dat die Here nie deur bollings rook verblind word nie. Hy kyk dwarsdeur ons rituele en gebruike en gewoontes na ons hart.
U weet wat ek wou wegsteek, Here. U sien deur my masker. Bevry my van selfbedrog. Vergewe my en maak skoon my hart, asseblief!
Barend Vos