Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Van altyd af

Lees Lukas 1:68-75.

“Lofwaardig is die Here … want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk” (v 68).

Die ou priester Sagaria was mos ’n tyd lank stom, maar toe hy sy stem terugkry, was daar geen keer aan hom nie. Hy sit ’n behoorlike loflied in oor die Here se trou. Oor die Verlosser uit die Dawidhuis wat Hy gestuur het, oor die nakoming van al sy beloftes. Daarom sal ons Hom altyd dien, sing Sagaria.

Ja, die Here se trou verstom ons dikwels. Dit laat ons sonder taal of tyding wanneer ons sien wat Hy doen, hoe Hy dit doen – en veral hoe dit alles inpas by wat ons Hom so mooi gevra het. Dan skaam ons ons oor kleingeloof, oor twyfel, oor dinge wat kwansuis “nie uitwerk soos ons gehoop het dit sou nie …”

Eers by nabetragting sien ons waarvoor ons die hele tyd blind was: die Here se hand in die gebeure wat rondom ons afspeel. Daardie dinge wat ons vroeër “toeval” genoem het, of “per on­geluk”, of “soos dit moes wees”. So asof daar die een of ander onaf­wendbaarheid oor die skepping hang, karma of ’n blinde sambok. ’n Wiel wat draai. Die onontwykbare noodlot.

Sagaria sien in alles wat gebeur bloot die tekens van God se trou, die waarmaking van sy beloftes, die daadwerklike bevesti­ging van die eed wat Hy gesweer het.

Hy kom van ver af met sy kinders, sê die ou priester. En Hy sal heelpad by hulle bly. Hy het Hom aan hulle verbind en niks en niemand, nie eens hulleself nie, kan daardie band verbreek nie.

Dit is genoeg om enige mens stom te slaan – én in jubeling te laat losbars.

U trou kom van altyd af, Here, en dit sal tot in ewigheid by ons bly. Halleluja!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.